1 Samuel 2:13-36
Ek onthou hoe ek op ’n keer by mense gekuier het. Hulle kind was verskriklik stout. Haar pa het haar so gekyk, sy kop geskud en half vir homself gemompel: “Jy kort ’n goeie pak slae, maar ek gaan dit nie vir jou gee nie.” Net soos Eli van ouds …
Die hoëpriester Eli waggel met stram bene na die ingang van die huis van God, en laat sy swaar lyf met ’n sug op die stoel neersak. Vir ’n hele ruk sit hy so, wag hy dat die brandende pyn in sy heupe bedaar. Sy asem hyg van die inspanning, en hy vee die sweet uit sy oë.
Een van die skoonmaaksters storm snikkend by die huis van God uit, by hom verby en af in die straat. Hy wil nog vra wat verkeerd is, maar sy is al weg. Net Hofni se koggellaggie hang hol in die lug.
Eli skud sy kop hartseer. Hy hoef nie meer te vra wat die vrou makeer nie. Hy weet maar te goed sy seuns slaap by die meisies wat in die huis van God werk. Hoeveel mense het nie al by hom daaroor gekla nie, en ook oor hoe hulle die mense se offers ontwy. Hy het al met hulle daaroor gepraat, maar hulle steur hulle nie aan hom nie.
Hy sug weer. Eintlike behoort hy hulle van hulle priesteramp te onthef, maar dis darem sy seuns …
Dis seker maar die gevolg van die sondeval, maar daar is nie ’n maklike manier om ’n kind ordentlik groot te maak nie. Dit bly pynlik vir jou én jou kind. Maar as jy jou kind regtig liefhet, sal jy nie daarvan wegdeins nie. Die Woord leer ons immers in Spreuke 22:15: “Onverstandigheid is eie aan ’n jongmens, maar ’n pak slae haal dit uit hom uit.”
Views: 73