2 Samuel 15:1-5

 

“Dis ongewoon om ’n besoekie van die koning te kry,” sê Absalom sarkasties toe ’n slaaf vir Dawid na sy binnehof bring. Hy staan lui op, en buig vermakerig.

“Ja, en vrede vir jou ook, Absalom,” kap Dawid terug, en wil dan sy tong afbyt. Hy het hom voorgeneem om ten alle koste kalm te bly, en hier het hy al in sy heel eerste sin droog gemaak. Hy wil sy seun gaan omhels, maar kom nie sover nie.

Die stilte hang swaar tussen hulle. Absalom kyk uitdrukkingloos na hom, sodat hy later ongemaklik sy keel skoonmaak en sê: “Ek het kom vrede maak, my kind.”

“O.”

Toe Absalom nie verder praat nie, sukkel Dawid voort: “Ek verlang na jou, Absalom. Ek dink baie aan jou, sien jou so af en toe op ’n afstand, en dan pyn my hart.” Hy glimlag selfbewus. “Ek begin nou oud word, en ’n mens word seker maar meer sentimenteel soos die jare aanstap. Ek wil … ek kan nie langer so aangaan nie. Dis dié dat ek gekom het.”

“Is dit nie nou ’n bietjie laat daarvoor nie, Pa?” vra Absalom, ongeroer deur Dawid se woorde.

Dis nooit te laat om te vergewe nie, selfs al kom die ongelukkigheid soos dié tussen Absalom en sy pa Dawid ’n lang pad. Absalom het rede gehad om kwaad te wees (Dawid het nie vir Amnon gestraf toe dié Absalom se suster Tamar verkrag het nie), maar sy verhaal skreeu dit uit dat wraak op die lang duur nie baat nie. Dit vernietig almal in die proses.

Nie vergelding nie, maar vergifnis, is die Here se boodskap. In Romeine 12:18-21 staan: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God … Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”

image_pdfimage_print

Views: 28

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.