Demas kry koue voete
Eers was hy een van die ywerigste dissipels en medewerkers van die beroemde sendeling-evangelis Paulus van Tarsus in Silisië. Maar nou het DEMAS op kort kennisgewing sy leermeester die rug toegekeer en na Tessalonika vertrek.
Die waardige ou evangelis is tans in die tronk en verhoorafwagtend op ’n saak van onrusstokery wat sy Joodse geloofsteenstanders teen hom aanhangig gemaak het. Hy was glo verpletter oor Demas se besluit, en het hom gesoebat om te bly, maar daarvan wou die jong man niks weet nie. “Ek is moeg van die gesukkel en die ellende wat Paulus omring,” het hy gesê. “Die man is al hoeveel keer geslaan en in die tronk gegooi en beledig, maar hy leer nie sy les nie. Hoekom gaan hy nog aan? Kan hy nie sien die mense wil nie hoor wat hy te sê het nie? Nee wat, genoeg is genoeg. My lewe lê nog voor.”
Dr Lukas, ’n ander medewerker van Paulus, is net so teleurgesteld oor Demas se besluit. “Ons is almal baie lief vir hom. Hy is ’n skrander jong man wat vorentoe nog van onskatbare waarde vir die Christendom kon wees, en nou is hy weg. Maar wie weet? Die weë van die Here is vir ons duister. Miskien keer Hy vir Demas voor en kom hy later terug na ons. Ek bid net dat sy besluit nie beteken dat hy sy rug op die Here ook gedraai het nie.”
Ons lees van Demas se besluit in 2 Tim 4:10. Ander plekke waar hy genoem word, is Kol 4:14 en Filemon 1:24.
Views: 8