2 Tim 4:9
Paulus het nie op sy eie gewerk nie. Sy bedieningsmetodiek was een van mentor-wees. Ons kan talle name opnoem van mense wie se mentor hy was: Timoteus, Lukas, Silas, Titus, Priscilla en Akwilla, Apollos …
Toe dit tyd word dat Lukas en Timoteus moet gaan, sê Paulus: “Ek het ’n behoefte daaraan om vir oulaas saam met julle te bid.” Met hulle hande in syne begin hy bid; vir hulle, en vir homself wat die volgende oggend onthoof sal word.
Timoteus ruk soos hy huil, maar hy beur die woorde uit: “Here Jesus, dankie dat U broer Paulus vir ons gegee het. Dankie dat U hom so vrugbaar in u diens gebruik het. Dankie dat hy my pa in die geloof kan wees, en dat ek so baie van hom kon leer. Maak my soos hy, Here! En wees met hom, vannag, en môre-oggend, as hy alleen sal wees. Help hom dat sy geloof nie sal wankel nie, sodat hy ook in sy sterwe vir U sal verheerlik. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid, tot in alle ewigheid. Amen.”
Toe is dit tyd om te groet. Paulus omhels vir Lukas, en toe vir Timoteus. “Dankie, baie dankie vir jou gebed, my kind. Elke woord het in my hart gaan lê, en vannag, as ek alleen is, sal ek dit weer bid saam met jou. Moenie oor my huil nie, Timoteus. Wees saam met my bly, want môre stap ek oor na die hemelsale, waar ons Heer op my wag. Ek is nie bang nie, want die Here hou my vas.”
’n Mens wonder of iemand soos Timoteus ooit die mas sou opkom sonder die ferm leiding van sy mentor Paulus. Dalk het ek en jy ook ’n mentor nodig? Of dalk kan jy vir iemand ’n mentor wees?
Views: 16