Jesus, die Seun van God en van Maria
Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God.
Luk 1:35
Ons bely ’n Drie-Eenheid: Vader, Seun en Heilige Gees. Ons bely ook dat Jesus die eniggebore Seun van God is, een in wese met die Vader, verwek, nie gemaak nie. Ons bely verder oor Hom dat Hy ter wille van ons saligheid neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees en die maagd Maria, en mens geword het (Belydenis van Nicéa).
Dis duidelik uit hierdie belydenis dat die Seun van God vóór Jesus se geboorte nog nie ’n menslike natuur gehad het nie. Die Seun van God het mens gewórd in Betlehem. Dit is dus eintlik verkeerd om van die Seun as “Jesus” te praat voor sy geboorte, bv. waar Hy in die Ou Testament opgetree het. Jesus was nie in die hemel, vanwaar Hy neergedaal het nie. Die Seun was in die hemel as tweede Persoon in die Drie-Eenheid. Die evangelis Johannes skryf só daaroor: die Woord (die Seun van God) was van die begin af daar, maar eers in die tyd het die Woord mens geword (Joh 1:1-3, 14).
Eers deur Maria het die Seun ’n mens geword en ’n menslike natuur bygekry. Jesus is dus meer as die Seun van God; Hy is nie “net” God nie, maar ook ’n mens soos ek en jy.
Daar is al baie geskryf oor die twee nature van Christus. Die vroeë kerk het by die Sinode van Chalcedon (451 nC) dit só geformuleer: die twee nature van Christus bestaan “onvermengd, onveranderd, ongedeeld en ongeskei” in Hom. Jesus is dus nie half-god en half-mens nie. Hy is volledig God én volledig mens, en sy goddelikheid en menslikheid is nie los van mekaar nie.
Dié uiteensetting van Chalcedon verklaar nie die twee nature van Christus nie; dit bly ’n misterie waarvoor ons maar net in aanbidding en verwondering kan buig. Wat ons wel kan weet, is dat die Seun van God in die volheid van die tyd (Gal 4:4) aarde toe gekom het, mens geword het en onder ons kom woon het (Joh 1:14). Dít is wat ons met Kersfees vier.
Views: 58




