Sê vir die Israeliete hulle moet in die gebiede wat hulle besit, vir die Leviete stede gee om in te woon, en ook weiveld rondom die stede. (vers 2)
In Israel was daar net een heiligdom. Tydens die woestyntyd was die heiligdom, of tent van ontmoeting, in die middel van die laer. Later, ná die intog in Kanaän, is dit in Silo gevestig totdat die Filistyne Silo verwoes het (1 Sam 4). Nóg later was die tent van ontmoeting in Jerusalem totdat dit uiteindelik in Salomo se tempel gesetel is.
Alle godsdienstige handelinge (offers en feeste) het by die heiligdom onder die priesters se leiding plaasgevind. Dit het egter beteken dat party Israeliete baie ver van die plek van aanbidding gewoon het, en moontlik afgeskeep kon voel, of geestelik kon kwyn. Daarom beveel die Here dat daar dwarsdeur die land stede ingerig moes word waar Leviete kon woon. Dit het meegebring dat die Leviete dwarsoor die land teenwoordig was as verteenwoordigers van God, om die volk te onderrig en die reg te handhaaf (Lev 10:11).
Vandag is dit die taak van die plaaslike gemeente (wat oral bestaan) om ons te herinner aan God en sy woord. Só keer God dat ons geestelik wegraak.