Geen grond van die Israeliete mag van die een stam op ’n ander oorgaan nie, want elke Israeliet moet vashou aan sy deel van die stam se grond. (vers 7)
In Num 27 het ons gesien dat die dogters van Selofgad ook stamgrond kon kry omdat hulle pa nie seuns gehad het nie. Die volgende probleem was dat, as dié dogters met iemand uit ’n ander stam trou, die erfgrond na die man sou oorgaan en die Josef-stam dus ’n deel van hulle grond sou verloor (vers 3-4).
Om dit te verhoed, beveel die Here dat sulke vroue nie met mans uit ander stamme mag trou nie. So sal die grond in die stam bly aan wie dit oorspronklik toegeken is. Anders sou die balans en grootte van die stamgrond versteur word.
Die beginsel wat God neerlê, is dat een nie ten koste van ’n ander verryk mag word nie. Elkeen moes sy regmatige deel kry. Dit geld vir ons ook. ’n Boer behoort bv nie soveel boorgate te sink dat hy sy buurman se ondergrondse water laat opdroog nie. ’n Sakeman behoort nie sy besigheid só aggressief te bemark dat hy die kompetisie uit die mark druk nie.
God gun elkeen ’n plek in die son. Ons behoort ook.
Naskrif: Môre begin ons (DV) met die boek 1 Petrus