Die Here het by die berg al hierdie gebooie duidelik hoorbaar aan julle hele gemeente gegee, uit die vuur en die stikdonker wolk uit, en toe het Hy stilgebly. Daarna het Hy dit op twee plat klippe geskryf en dit vir my gegee. (vers 22)
Mense praat soms van die twee tafels van die wet: die eerste tafel is die eerste vier gebooie wat oor liefde vir God handel, en die tweede tafel die laaste ses wat oor liefde vir die naaste gaan. Dat ons die wet só indeel, is reg, maar om te praat van “twee tafels” – verwysende na die twee plat klippe waarop die wet neergeskryf is – berus op ’n misverstand.
Die twee plat klippe of tablette het gedien as ’n onuitwisbare kontrak tussen God en sy volk. Destyds is kontrakte altyd met twee afskrifte gesluit; een vir elke party (soos ons vandag nog doen as ons bv ’n kooptransaksie aangaan). Die twee kliptablette wat die Here vir Moses gegee het, was dus waarskynlik twee volledige afskrifte van dieselfde wet. Moses moes een namens God in bewaring hou, en een vir die volk neem.
God se verhouding met ons staan nie op losse skroewe nie. Dis ’n kontraktuele verbintenis tussen Hom en ons, onuitwisbaar gegraveer.
Views: 18