Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” (vers 15)
Ek was geskok toe ek onlangs lees hoeveel die grootbaas van ’n bekende supermarkgroep kry – R64m per jaar. En ’n ander groep s’n kry R125m! Ek kan my nie indink in hoeveel dit is, of hoe ’n mens met soveel rykdom leef nie. En, moet ek erken, ek was ook ’n bietjie jaloers toe ek dit lees.
Materialisme is immers in ons vesel ingebed. Ons kyk mos eerder na mense wat meer as ons het en vergeet die miljoene wat onder die broodlyn leef. Daarom is dit goed om weer vandag Jesus se woorde te hoor. Jou lewe is nie afhanklik van materiële dinge nie. Ons het immers ’n groot Hand onder ons wat ons opvang en versorg (vers 22-34).
Jesus noem iemand wat opgaan in sy besittings, ’n dwaas (vers 20). Want, sê Hy, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees (vers 34).
As die stinkrykes met hulle gewete kan saamleef, is dit hulle saak. Ek wil vandag opnuut die Here dank vir alles wat ek van Hom ontvang.