So sê die Here vir hierdie volk: Hulle is lief om van My af weg te dwaal [..] Daarom is Ek, die Here, hulle nie meer goedgesind nie. Ek sal hulle nou hulle sonde toereken en rekenskap van hulle eis vir hulle oortredings. (Jer 14:10)
Die volk verkeer in die uiterste ellende. Daarom doen hulle die enigste ding wat vir hulle oorbly: Hulle vlug na God toe. Hulle roep ’n nasionale biddag uit en stroom na die aanbiddingsplekke. Die volk is verenig in gebed. Hulle smeek om uitkoms.
Jy het hulle hartroerende gebede gelees. ’n Mens voel om te vra: Is dit dan nie goed genoeg nie? Wat wil God dan nog verder hê moet hulle sê? Hulle beroep hulle op God se trou, sy verbond, sy Naam, sy eer, sy hulp in die verlede. Die Here is egter nie geroer of geraak nie (vers 10).
Die probleem was: Hulle doen dit omdat daar nood is, nie omdat hulle berou het oor hulle sonde nie. Skuldbelydenis is nie bloot ’n resep om te verseker dat die Here sal help nie. Verootmoediging vra ’n gebroke hart en ’n verslae gees. Berou wat nie uitloop op ’n hartsverandering en gevolg word deur ’n bekeerde lewe nie, is van geen waarde vir God nie.