Die man met die meetstok het my teruggebring na die ingang van die tempel toe. Toe sien ek daar kom water onder die tempel se drumpel uit aan die oostekant. (Eseg 47:1)
Op 22:1-2 steun sterk op hierdie visioen van Esegiël. Daar word die rivier ten regte “die water van die lewe” genoem. Dit vloei vanuit die troon van God en van die Lam. In Esegiël ontspring dié rivier by die tempel, waar God teenwoordig is onder sy mense. Dit bring lewe oral waar dit vloei, en maak die dorre wêreld ’n lushof (47: 9, 11). Wat dood was, word lewendig.
Jesus het dié beeld op Homself toegepas – Hý is die een wat, deur sy Gees, die lewende water verskaf (Joh 4:10 en 7:37-39). Daarom kon Hy vir Marta sê dat Hy die opstanding en die lewe is, en dat dié wat in Hom glo, sal lewe (Joh 11:25).
Die water bring egter nie net lewe vir mense nie. Dit bring herstel aan die hele skepping. Daarom herinner die visioen aan Gen 2. In Paulus se lied oor die grootheid van die Seun in Kol 1:15-20 verkondig hy dat Christus nie net lewe vir die kerk bring nie, maar vir alles op die aarde en in die hemel (Kol 1:20).