Hy het sy eer daarin gestel om te leef soos die Here dit wil … (2 Kron 17:6)
Josefat se lewensresep was eenvoudig: leef soos die Here dit wil (vers 6). Laat dit die kenmerk van jou lewe wees, jou eer wees. Hy het die gebooie van God gehoorsaam (vers 4). En hy het sy mense geleer om dit ook te doen. ’n Spesiale taakspan is daarvoor in die lewe geroep om die volk in die wet van die Here te onderrig (vers 7-10). So het Juda ’n Godvresende volk geword wat God en sy wet geken en geleef het. En dit het afgegee aan die volke rondom hulle (vers 10). Hulle het besef dat Juda God se mense is, en daarom het hulle lig geloop vir die Judeërs.
Ons woon ook in ’n Christelike land. Ongelukkig is dit in baie gevalle net in naam. Ons is immers die land met die hoogste moordsyfer per capita ter wêreld. Bedrog het deurgesyfer na elke vlak van die samelewing. Misdaad laat ons agter tralies woon. Sistemiese armoede hou ’n baie groot deel van ons mense gevange.
Josefat sou gesê het, dis omdat ons mense nie die Bybel ken nie. Sonder God is daar nie hoop nie (Efes 2:12).