’n Ouer man moet jy nie skerp teregwys nie, maar vermaan asof hy jou vader is. Vermaan die jonger mans soos jou broers, die ouer vroue soos moeders, en die jonger vroue soos susters, in alle eerbaarheid. (1 Tim 5:1-2)
Paulus lê in hierdie hoofstuk baie klem op respek teenoor ander; daarom moet jy ouer mense met liefde reghelp as dit nodig is, en jonger mense soos jou gelykes. Die hele samelewing is op hierdie verwagting gebou. Dit is natuurlik in navolging van die Vyfde Gebod (Eks 20:12). Hierdie basiese ordentlikheid is ongelukkig nie meer deel van die lewe nie. ’n Mens lees gereeld dat skoolkinders die onderwysers viktimiseer of selfs fisiek aanval.
Dit gebeur ongelukkig ook in die kerk, waar jonger leraars hulle wil op ander afdwing. Die ouer predikant word ongelukkig te dikwels uit die gemeente uitgewerk as die jong predikant nie met hom of haar tevrede is nie. Dit veroorsaak baie skade in die gemeente. Daarom dat Paulus ’n spesiale woord vir Timoteus het oor hoe gemeenteleiers hanteer moet word (vers 17-19). Die kerk kan baie hartseer gespaar word as ons almal Paulus se raad aan Timoteus ter harte neem en uitleef.
Bid tog vir die leiers in jou gemeente!
Views: 8