Ons ken almal die gelykenis van die verlore seun (Luk 15:11-32); van die seun wat alles gehad het, maar sy rug op sy pa gedraai het en agter plesier aan die wêreld in is. Dis natuurlik die verhaal van Israel. Israel, wat van die begin af met teerheid en liefde deur God grootgemaak is, en met ’n sagte hand gelei is uit Egipte na die beloofde land Kanaän. Maar daar het Israel God die rug toegekeer en agter die Baäls aangeloop, want Baäl was die god van materialisme en wellus. Keer op keer het God hulle probeer terugbring, maar hulle wou nie luister nie.

Ons hoor die pyn in God se hart as Hy sy aanklag teen Israel lê. Ek lees uit die 1983-vertaling: Vers 2: “Toe die Baäls roep, het Israel My verlaat …” Vers 3: “Hulle wou nie erken dat dit Ek is wat vir hulle sorg nie …” Vers 5: “Maar Efraim het geweier om hom te bekeer.”

Ons lees in Deut 21:18-21 wat die wet sê met só ’n deugniet van ’n kind moet gebeur. Kom ek lees dit:
“As iemand ’n koppige en opstandige seun het wat nie na sy vader en moeder wil luister nie, en hulle straf hom, maar hy wil steeds nie na hulle luister nie; moet sy vader en moeder hom gryp en hom uitneem na die oudstes van sy dorp, na die poort van sy woonplek. Hulle moet vir die oudstes van sy dorp sê, ‘Hierdie seun van ons is koppig en opstandig. Hy wil nie na ons luister nie. Hy is roekeloos en ’n drinker.’ Dan moet al die manne van die dorp hom met klippe doodgooi, sodat hy sterf. Jy moet die kwaad by jou uitroei. Die hele Israel moet dit hoor sodat hulle bang word.”

Dít is die agtergrond waarteen ons God se pyn en hartseer oor sy koppige en opstandige kind Efraim moet lees. (Terloops, Efraim staan hier vir die noordelike stamme van Israel.) Die logiese en wetlike einde (Deut 21:21) van dié verhaal behoort die doodstraf vir die kind te wees, want die ouers (God) is raadop. Daar is geen salf aan die kind te smeer nie.

Israel se straf was onafwendbaar. Assirië se wrede ystervuis sal hulle verpletter, sê die Here. Die swaard van Assirië sal die orakelpriesters afmaai. Die leiers sal opgehang word, en die volk sal in ballingskap as slawe weggevoer word.

Dit het inderdaad so gebeur. In die jaar 722 vC het Samaria in die hande van Salmaneser van Assirië geval, en het die noordelike koninkryk ophou bestaan. Die mense wat die inval oorleef het, is weggevoer en het as ballinge in die verstrooiing gaan leef, opgesluk deur die Assiriese ryk.

’n Mens sou dink dis die einde van Israel. Enige een van ons sou al lankal opgegee het op Israel. Julle kan gerus die verhaal van Israel gaan lees in 1 Kon 12 en verder; van toenemende afgodsdiens. Of lees die boek Amos, waar Amos in geen onduidelike taal die sonde van Israel uitspel nie.

Maar hoor wat sê die Here in vers 8 en 9:
“Hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou oorlewer, Israel?
Hoe kan Ek jou prysgee soos Adma, jou maak soos Sebojim?
My hart is diep ontroer in My, die deernis brand in My.
Ek sal nie in my brandende toorn optree nie;
Ek sal nie omdraai en Efraim vernietig nie;
want Ek is God, nie ’n mens nie – die Heilige in jou midde;
Ek sal nie in woede kom nie.”

’n Mens sou kon sê ek het dít nie sien kom nie. Hoofstuk ná hoofstuk moes Israel hoor dat hulle op pad is na ondergang en vernietiging omdat hulle die rug op die Here gedraai het en die Baäls gedien het. In my eie kop (en hart!) het ek ook Israel afgeskryf, gedink dit was die einde toe die Assiriërs hulle weggevoer het. Maar op dié punt kom die Here met hierdie ongelooflike woord. Israel is nie verby nie! God het hulle nie totaal vernietig nie. Hy het nie opgegee op hulle nie! Daarom, 200 jaar later, toe koning Kores die Pers aan bewind gekom het, kon Israel, saam met die Joodse ballinge, na hulle land terugkeer, soos die Here in vers 10 en 11 belowe.

Ongelooflik dat God, ten spyte van alles, steeds sy volk liefhet en nie wil los nie. Dít is die evangelie in die profesieë van Hosea. Die Here verduidelik dit self in vers 9: Hy is God, nie ’n mens nie. Hy is die Heilige wat by ons is en nie met woede wil ingryp nie. Die ommekeer in sy hart was nie ’n wispelturige ingewing van die oomblik nie, of omdat Israel skielik iets reg gedoen het nie. Dis omdat Hy God is, die Gans Andere, soos die Switserse teoloog Karl Barth dit stel.

Een van die mooiste prente wat ek in my kop het oor God, kom uit die gelykenis van die verlore seun, daar waar die pa sy seun al van ver af sien, en dan met uitgestrekte arms sy seun tegemoet hardloop. Die Here Jesus vertel (Luk 15:20): “Hy het toe opgestaan en na sy vader gegaan. Hy was nog ver weg, toe het sy vader hom al gesien. Hy het hom innig jammer gekry, na hom gehardloop, hom omhels en hom gesoen.” Só is God. Die deernis brand in Hom, sy liefde brand te sterk (NAV), en daarom is daar by Hom ontferming, nie woede nie. Genade, nie oordeel nie. Hy roep sy kinders van oral-oor om by Hom te kom skuil (vers 10 en 11).

Daarom staan daar ’n kruis op Golgota, waar die brandende toorn van God oor die sonde van sy mense (ook joune en myne) by ons verbygegaan het en sy Seun getref het. Só lief het God die wêreld gehad, sê Joh 3:16.

So, daar is vir my twee prente oor God wat veral uitstaan: dié van die pa in die gelykenis van die verlore seun, en dié van Golgota. In beide hierdie aangrypende beelde van God resoneer die woorde van Hos 11:8: “Hoe kan Ek jou prysgee? Hoe kan Ek jou vernietig? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.” Daarom kom sy kinders bewend van oral-oor om by Hom ’n tuiste en geborgenheid te vind, want hulle het opnuut gehoor God sê hulle ís Ammi, My volk, en vir hulle ís daar Rugama, ontferming (vgl Hos 1:12).

Ek dink ons moet kans gee dat hierdie prente van God diep in ons harte inbrand, want dis mos ons werklikheid ook. En dis hoe ons óók moet wees in hierdie onstuimige land: Nie veroordelend en vergeldend nie, maar barmhartig, vol deernis en genade. Dis mos waaraan ons verlede Sondag in die Nagmaal opnuut herinner is, soos Ps 103:8 bely: “ Barmhartig en genadig is die Here, geduldig en oorvloedig in troue liefde …” En in Luk 6:36 sê Jesus: “Julle moet barmhartig wees soos julle Vader barmhartig is.”

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.