Daardie dag het daar ’n hewige vervolging van die gemeente in Jerusalem begin. Al die gelowiges behalwe die apostels is uitmekaar gejaag en verstrooi oor die gebiede van Judea en Samaria. (Hand 8:1b)
Dit is opvallend dat die eerste gemeente, ondanks die duidelike opdrag van Christus (Matt 28:19), tog nie uit eie beweging begin het om die evangelie in Samaria en elders te verkondig nie. Hulle was wel onverskrokke in die verkondiging van Christus in Jerusalem, maar net in Jerusalem. Die bloedige vervolging van die gelowiges (vers 1) wat ná Stefanus se steniging uitgebreek het, het gemaak dat hulle vir hulle lewe moes vlug – en so word hulle die wêreld ingedryf vir hulle getuienistaak. En oral waar hulle kom, begin hulle om die evangelie te verkondig. Die snelle groei van die Christelike kerk in die eerste eeu moet aan hierdie spontane getuienis van die individuele gelowiges toegeskryf word.
Die Here laat Hom nie keer nie, nie deur die Bose nie, maar ook nie deur ongehoorsame of trae gelowiges nie. Al moet Hy dan ook ingryp, al moet Hy selfs vervolging toelaat om sy kinders tot gehoorsaamheid te bring. Laat ons nie met ons getuienis wag tot God noodgedwonge moet ingryp nie!