Lees Tit 1:1-5
Ons is bevoorreg om vanoggend nuwe kerkraadslede te bevestig in hulle ampte. Ons is die Here innig dankbaar dat Hy julle gelei het om julle beskikbaar te stel vir die kerkraad. Ek glo party van julle het dit met vrees en bewing gedoen, omdat jy van oordeel is dat jy nie opgewasse is vir die taak nie.
Op die eiland Kreta moes Titus ook kerkraadslede in hulle ampte bevestig, en om hom te help om die regte persone te kies, skryf Paulus om vir hom raad te gee.
Wat is die dinge, sou jy sê, waarna Titus moet kyk as hy mense vir Kreta se kerkraad moet soek? Aan watter eienskappe moes hulle voldoen? Kom ons noem ’n paar dinge op wat mense verwag ’n kerkraadslid aan moet voldoen. Dis ook dikwels die redes wat mense aanvoer waarom hulle meen hulle nie geskik is om as kerkraadslede te dien nie. Mense sê maklik vir jou hulle kan nie op die kerkraad dien nie, want hulle kan nie in die openbaar bid nie, of hulle kan nie organiseer nie, of hulle kan nie ’n biduur lei nie, of wat ook al. Maar is dít die vereistes wat God stel vir ’n kerkraadslid?
Lees Tit 1:6-9
As ons na hierdie gedeelte kyk, lyk dit nie so nie. Hier staan ’n kerkraadslid moet:
∙ onberispelik van gedrag wees
∙ aan sy/haar eggenoot getrou wees
∙ sy kinders behoorlik en reg grootmaak
∙ nie aanmatigend of opvlieënd wees nie
∙ nie ’n dronkaard, rusiemaker of ’n soeker na oneerlike wins wees nie
∙ gasvry wees
∙ lief vir wat goed is (mense én dinge)
∙ verstandig
∙ regverdig
∙ vroom
∙ selfbeheers
As jy nou mooi na hierdie vereistes kyk, sal jy sien dat hier niks staan van ’n klomp vermoëns en kennis waaroor jy eers moet beskik voordat jy in die gemeente leiding kan gee nie. Al die sake wat hier genoem word, het met karakter te doen, nie met kennis en vermoë nie. Want wat vir God in die eerste plek belangrik is, is nie soseer wat jy alles kan doen nie, maar hoe jy jou lewe elke dag inrig, hoe jou verhouding met die mense om jou is: jou huweliksmaat, jou kinders, en die ander mense wie se pad jy van dag tot dag kruis.
Een kommentaar merk hier op: Dit is wel belangrik dat ’n ouderling die Woord van God moet kan bedien, maar dis nóg belangriker dat hy volgens die Woord van God moet lééf, en só ’n voorbeeld vir ander stel.
Daarom, broers en susters, julle wat vandag vir die eerste keer, of vir die hoeveelste keer in die amp bevestig is: julle is die manne en vroue by uitstek wat deur julle lewe en optrede en die beeld van ons Here Jesus in die gemeente moet uitdra. Die apostel Petrus skryf aan die kerkraad in 1 Pet 5:2: “Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ’n voorbeeld vir die kudde te wees.”
Natuurlik verwag die Here meer as net ’n mooi karakter as jy in sy diens staan. Hy het julle immers geroep om op die kerkraad te dien. En daarvoor is bepaald bekwaamheid nodig – bekwaamhede wat Hy deur sy Woord, deur die inwerking van sy Woord in jou lewe, onder die leiding van sy Heilige Gees, in jou ontwikkel. Daarom stel die Bybel in vers 9 as vereiste vir die mense wat Titus moet kies – en dus vir julle wat vandag bevestig word: “Hy moet vashou aan die betroubare woord … Dan sal hy in staat wees om ander met die gesonde leer aan te moedig …” Op ’n ander plek (2 Tim 3:16,17) skryf Paulus dit ook: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”
Ons het nie ’n spesiale handboek oor hoe om geestelike leiers te wees nie. Hierdie Bybel is ons handboek. Hierdeur rus God ons toe, maak Hy ons bekwaam om in sy diens te kan staan. Daar is niks wat die besondere toerusting van die Woord van God in jou lewe kan vervang nie. Die Bybel is die Heilige Gees se instrument om jou te vorm en in staat te stel om die besondere uitdagings wat jou werk in diens van God aan jou stel, die hoof te bied. O, dat ons tog mense van die Woord sal wees! Ps 1 sê: “Dit gaan goed met die mens … wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.”
Wat gebeur as jy vashou aan die Woord? As jy God die geleentheid gee om jou toe te rus deur die Bybel? Vers 9 sê: “Dan sal jy in staat wees om ander met die gesonde leer aan te moedig.” Nie op hulle plek te sit nie. Nie uit te skel nie. Nie goed die waarheid te vertel nie. Nie fout te vind met alles nie. Nie af te kraak nie. Aan te moedig. Dít is jou roeping.
My vrou het ’n tyd gelede ’n Bybeldagboek gebruik, en elke oggend nadat sy stiltetyd gehou het, was sy teen die grond, want sy skiet só ver tekort. Toe sê ek later sy moet die dagboek los en ’n ander Bybeldagboek kry, want dit kan tog nie reg wees dat jou Bybelstudie jou moedeloos maak nie; dit behoort jou eerder te inspireer en te versterk vir die nuwe dag. Broer en suster, as die resultaat van jou bediening van die Woord van God en van jou werk vir die Here dít is dat jy mense moedeloos maak en ontmoedig, dan is daar iets drasties verkeerd met wat jy doen. Julle taak is nie om mense moedeloos te maak nie, maar juis om vanuit die Woord mense te bemoedig en hulle harte op te hef, sodat hulle met nuwe moed hulle hoop op God kan stel!
Dít is wat mense vandag nodiger het as ooit tevore: moed, omdat hulle ontdek dat God ook in húlle lewens ’n lewende werklikheid is. God seën julle!
Amen.