Ek moes die program waarmee ek artikels uitstuur, opgradeer. In die proses het van die verstellings verander sonder dat ek dit besef het, sodat slegs die eerste 55 woorde van die artikel gestuur is. Ek het dit eers gister besef, ook nadat van julle my aandag daarop gevestig het.

Ek het dit nou reggestel, en stuur daarom die volledige stukkies uit wat julle net halfpad ontvang het. Jammer vir die ongerief.
Jaco

Hoofstuk van die dag (30 September 2024): Handelinge 21
… hulle is almal met hulle vrouens en kinders saam met ons tot buitekant die stad. Ons het op die strand gekniel en gebid en van mekaar afskeid geneem. (Hand 21:5-6)

In die jongste Kerkbode vertel ds Jan Lubbe in sy gereelde rubriek “Uit my kerkdagboek” van ’n dogter wat by die kerkbasaar vir hom gesê het: “Ons het nie ’n kerk nie, Oom.” Dit het my laat dink aan ’n gebeurtenis in my eerste gemeente. ’n Baie aktiewe lidmaat is onverwags oorlede, en dit was die einde van sy drie kinders se Sondagskool-bywoning. Sy weduwee het besluit sy wil nie namens die kinders besluit wat hulle moet glo nie.
Klaarblyklik was dit anders met die eerste gelowiges. Lukas skryf dat almal, ook die kinders, saam is om van Paulus afskeid te neem (vers 5). Merkwaardig, want in die antieke wêreld kon kinders nie eintlik aan godsdienstige aktiwiteite deelneem nie. Kinders is egter deel van God se familie, en daarom ook deel van die kerk. Dit sien ons ook later in die hoofstuk waar Filippus se vier dogters prominente lede van die gemeente in Sesarea was (vers 9).
Kinders hoort in die kerk. Daarom dat Jesus so ’n sagte plek vir hulle in sy bediening gehad het (Matt 19:14).

Hoofstuk van die dag (1 Oktober 2024): Handelinge 22
… die Here (het) vir my gesê: ‘Maak gou en gaan dadelik uit Jerusalem weg. Die mense hier sal nie aanvaar wat jy oor My getuig nie.’ (Hand 22:18)

Uit Lukas se vertelling weet ons dat Paulus heftige teenkanting van die Jode gekry het toe hy ná sy bekering na Jerusalem teruggekeer het (Hand 9:30); tot só ’n mate dat hulle Paulus wou doodmaak. Wat Lukas egter nié vertel het nie, is dat Paulus nie uit die stad wou padgee nie. Hy het geglo dat sy vroeëre ywer in die vervolging dalk gewig sou gee aan sy getuienis (vers 19-20). In sy toespraak op die trappe van die kaserne kry ons ’n stukkie nuwe inligting. Dit was die Here wat hom beveel het om so gou moontlik die stad te verlaat, nie net omdat hy hom misgis het oor die mense se ontvanklikheid vir sy getuienis nie (vers 18), maar veral ook omdat die Here hom nodig gehad het as apostel vir die heidene (vers 21).
Dit gebeur maklik dat ons in ons ywer vir die Here se saak vashaak op ’n idee wat óns dink die beste is. Soos Paulus, moet ons naby genoeg aan die Here leef dat Hy ons op sý pad sal lei.

Hoofstuk van die dag (2 Oktober 2024): Handelinge 23
Die Sadduseërs ontken dat daar ’n opstanding uit die dood is en dat daar engele en geeste bestaan, maar die Fariseërs aanvaar wel albei hierdie dinge. (Hand 23:8)

Paulus was ’n goed opgeleide Fariseër voordat hy tot bekering gekom het. Die Fariseërs se siening oor die hiernamaals stem baie ooreen met hoe ons daaroor dink, in navolging van Jesus, wat in hierdie opsig by die Fariseërs aangesluit het. Die Sadduseërs, daarenteen, het nie in die bestaan van ’n hiernamaals geglo nie omdat daar niks daarvan in die eerste vyf boeke van Moses gestaan het nie. Die verwagting van ’n ewige lewe saam met God het eers in die Ballingskapstyd ontwikkel.
Vandag nog maak mense die fout om te dink dat iets nie so kan wees as dit nie in die Bybel staan nie. Die basiese denkfout lê daarin dat ons oor die wêreld met dít wat in Bybelse tye gedink is, gestop het. Daarom was dit destyds ’n krisis toe sterrekundiges ontdek het dat die aarde rond is, nie plat is nie, en om die son draai, nie andersom nie. Daarom gee mense eenvoudige antwoorde op ingewikkelde moderne vraagstukke wat nog nie in Bybelse tye daar was nie. Die Bybel sê niks daaroor nie, so dit kan nie. Punt ?

Hoofstuk van die dag (3 Oktober 2024): Handelinge 24
Na ’n paar dae het Feliks en sy Joodse vrou, Drusilla, vir Paulus laat haal om meer van hom te hoor oor die geloof in Christus Jesus. (Hand 24:24)

Wat ’n fantastiese geleentheid vir Paulus om die evangelie van Jesus Christus aan die goewerneur te verkondig! En wat ’n wonderlike kans vir die Feliks en Drusilla om tot geloof te kom, begelei deur die groot sendeling van die vroeë kerk! Ek glo Paulus het die kans met beide hande aangegryp.
Wat sou jý vir die twee vertel het? Dat Jesus vir hulle sonde gesterf het, en dat hulle vergifnis kan kry as hulle hulle skuld bely? Sekerlik sou Paulus dít vir hulle vertel het. Maar hy doen meer as dit, want hy wil hulle in geen illusie laat verkeer oor die eis van die evangelie nie. Daarom vertel hy hulle ook dat Christenskap ’n lewe van gehoorsaamheid aan God en selfbeheersing verg, en dat daar ’n oordeelsdag sal aanbreek (vers 25).
Navolging van Christus is geen vakansietrein na die ewigheid nie. Dit vra offers, en vereis van ons om onsself te verloën. Daartoe was Feliks helaas nie bereid nie. So het hy die kans van ’n leeftyd gemis.
Hoe gaan dit met jóú navolging?

image_pdfimage_print

Views: 5

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.