Salomo het begin bou aan die huis van die Here in Jerusalem. Dit was op Moriaberg waar die Here aan Dawid, sy pa, verskyn het, op die plek wat Dawid laat regmaak het, waar die dorsvloer van Arauna die Jebusiet was. (2 Kron 3:1)
Die berg Moria word net op een ander plek in die Bybel vermeld, en dit is in Gen 22:1-19, waar God Abraham beveel om sy seun Isak te gaan offer. Dit is op dieselfde plek, op die dorsvloer van Arauna, waar Dawid op God se bevel ’n altaar gebou het, maak die Kronis dit duidelik (1 Kron 21:15). Die keuse van die bouperseel vir die tempel was dus nie lukraak nie. Dit het van Bo gekom, en Dawid het naby genoeg aan die Here geleef om sy leiding te verstaan en te volg.
Ek wonder hoeveel goed-bedoelde planne loop skeef omdat dit nie op die regte plek begin nie; omdat dit by onsself en óns idees en ideale begin, en nie by God en sy leiding nie. Dit is ’n soort refrein van Dawid in die Psalms (130:7, 131:3; vgl 5:4): “Wag op die Here …”
Dit vra natuurlik dat jy nie te veel van jouself en jou eie vermoëns dink nie (Ps 131:1; vgl Jak 4:15).
Views: 11