1 Pet 2:9-17

Jy hoor dalk die woord “uitverkiesing” as jy vers 9 lees, en dan steek jou kop vas, want jy verstaan dit nie. Ek wil jou vra: moenie stilstaan by wat jy nié verstaan nie, en konsentreer op wat jy wel kan verstaan oor die uitverkiesing: God het jou (en ander) uitgekies om sy volk, sy mense, te wees.
Om iets uit te kies beteken om tussen baie ander moontlikhede op een of meer bepaalde item te besluit; om dit te kies omdat dit vir jou anders as die ander is, spesiaal is, na aan jou hart lê. So het jy immers jou lewensmaat gekies, of jou beroep, of jou motor of selfoon of baadjie.

Dink na oor wat dit beteken dat God jou uitgekies het, en skryf dit in jou joernaal neer. Wat sê dit van jou? Wat sê dit oor hoe God oor jou dink en oor jou voel?
As jy boonop vers 6 en 7 saam met vers 9 lees, kry die feit dat ons deur God uitgekies is, nóg meer betekenis, want jy is uitgekies net soos Christus! Jy deel in Christus se ereplek en in sy eer. Dit slaan my asem weg. Op ’n manier wat ons nie kan verstaan nie, het God besluit om jou en my op dieselfde manier te beskou en te behandel as wat Hy sy eie Seun behandel.
Dink na oor hierdie ongelooflike waarheid dat jy deel in die eer om saam met Christus uitgekies te wees.

Gebed: Dankie, Here, dat ek vir U spesiaal is.

image_pdfimage_print

Views: 13

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.