Lees Kol 2:6-23 en 3:1-4
Droom jy ooit oor die wederkoms? Oor die nuwe hemel en die nuwe aarde wat dan gaan aanbreek?
Baie gelowiges verkies om liewer nie aan die wederkoms te dink nie. Dit is vir hulle ’n vreesaanjaende gedagte, want die konnotasie wat ons met die wederkoms het – dat dit voorafgegaan sal word deur ’n groot verdrukking en oorlog en gerugte van oorloë – maak dat mense hoop dit gebeur nie in hulle leeftyd nie. Maar ek dink ons het in ons denke Jesus se waarskuwing in Matteus 24 oor die verwoesting van Jerusalem, en sy woorde oor die wederkoms, met mekaar verwar. Daarom dat die vroeë kerk met verlange en sonder skroom gebid het: “Kom, Here Jesus, ja, kom haastig!” (kyk byvoorbeeld na Openbaring 22:20). Vir hulle was die wederkoms iets om na uit te sien.
Dit is ook hoe Paulus oor die wederkoms gedink het. Vir hom was die wederkoms die gebeurtenis waarop ons saam met Christus in sy heerlikheid sal deel. En jy hoef nie bang te wees dat jy dit nie gaan maak nie, want jou lewe is saam met Christus verborge in God.
Nadenke oor die wederkoms is deel van die bedink van die dinge wat daarbo is. As jy die wederkoms na die agtergrond skuif, vervaag jou verwagting en ook jou ywer om Jesus te volg.
Gebed: Kom, Here Jesus! Ek verlang daarna om by U te wees.
Views: 5




