Lees 1 Pet 1:1-9 en 23

Geloof is ’n moeilike ding, want jy werk nie op ’n vlak waar jy kan sien en verifieer nie. Geloof werk met die onsigbare. God die Vader is immers vir ons menslike oë onsigbaar; so ook Jesus en die Heilige Gees. Geloof is om teen alles wat jou sintuie vir jou vertel, die Here Jesus lief te hê.

Dis nie ’n eenvoudige saak nie, en die Bybel is vol berigte van mense wat presies hiermee gesukkel het. Johannes die Doper in die tronk (Lukas 7:19) en die dissipel Tomas (Johannes 20:25) is hiervan goeie voorbeelde. En die Hebreërskrywer wy ’n hele hoofstuk daaraan om te vertel van mense wat geglo het, al het hulle nie gesien nie (Hebreërs 11), juis om sy lesers te bemoedig.

Miskien is dit daarom goed om oor jou eie geloof na te dink, en veral oor die vraag: waaraan anker jy jou geloof. Hoekom glo jy? Omdat jy verwag dat dit vir jou iets in die sak gaan bring? Omdat jy meen dat dit hier op aarde vir jou sekere voordele inhou?

Hoekom het jy die Here Jesus lief? Oor wat Hy vir jou kan gee en vir jou kan doen, of oor Wie Hy is? Is Hy alleen vir jou genoeg? Dís die groot vraag. 

Gebed: Ek het U lief, Here Jesus! Ook al kan ek U nie sien nie.

image_pdfimage_print

Views: 5

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.