Lees 1 Pet 2:9-17
’n Mens kan ’n toeris mos op ’n myl ver uitken, veral as hy of sy van ’n ander land af kom. Want hulle lyk anders, praat anders, trek anders aan. Soos my skoonseun wat in die VSA woon, sê: As hy sy mond oopmaak, weet almal hy is nie ’n Amerikaner nie.
Dis wat jy is: ’n vreemdeling, ’n burger van ’n ander plek: van die hemel. Daarom moet jou woorde, jou optrede, jou hele menswees ánders wees as die res. Mense moet jou op ’n myl ver kan uitken as ’n burger van die hemel, want jy lyk en doen net anders, verrassend anders. Soos die barmhartige Samaritaan waarvan Jesus ons in Lukas 10:30-37 vertel het. Dáár is nou vir jou ’n vreemdeling!
Dalk is dit ’n goeie ding om jouself dié vraag te vra: As mense na my kyk, na wie ek is en wat ek doen en sê, sal hulle daaruit kan aflei dat ek ’n hemelburger is? Of pas ek só naatloos in by my omgewing dat ek nie uitstaan nie en dat mense nie eers agterkom ek behoort aan die Here nie?
Let op hoe Petrus dit in dié gedeelte omskryf: jy gee nie aan sinlike begeertes toe nie, jy gedra jou altyd goed sodat niemand ’n vinger na jou kan wys nie, jy onderwerp jou aan elke menslike owerheid …
Hoe lyk jóú lewe?
Gebed: Here, help my om vandag só te lewe dat ander kan sien ek is ’n burger van die hemel.
Views: 3




