Lees Matt 11:28-29

Dis mos wat ek en jy nodig het: rus vir ons gemoed! Rus, nie net van die dolle gejaag wat die lewe geword het nie, maar rus vir jou gemoed.

Dink net: geen bekommernis nie, geen angstigheid nie, geen onrustigheid nie, geen benoudheid nie; rus. Dit klink mos na hemel op aarde. En – dit is presies dit! Op ’n ander plek in die Bybel word die hiernamaals immers so beskryf: as God se rus. Kyk byvoorbeeld na Hebreërs 4:3: “Ons wat glo, gaan wel in die rus in, maar hulle nie, soos God gesê het: ‘Toe het Ek in my toorn ’n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.’”

Dís die rus wat Jesus gee aan dié wat na Hom toe kom. Geborgenheid, reeds hier op aarde, want Hy is daar om vir jou te sorg. Dis ook waaroor die Heidelbergse Kategismus dit in die eerste vraag het: troos in lewe en in sterwe, want ek behoort na liggaam en siel nie aan myself nie, maar aan my enigste Saligmaker, Jesus Christus …

By Jesus leer jy om tot rus te kom, om in Hom te rus. Dan val die uitgeputheid en oorlaaidheid van die lewe en die godsdiens van jou af, sodat jy kan begin leef, voluit kan leef, vir God.

Vind dan vandag jou rus in Hom.

Gebed: Here, ek kom na U toe, want ek smag na die rus wat net U kan gee.

image_pdfimage_print

Views: 6

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.