Lees 1 Pet 2:9-17
Wat gaan deur jou gedagtes as iemand sê so-en-so is ’n heilige mens? Dink jy dis iemand wat so half bokant die aarde sweef, iemand wat meer is as ons gewone sterflinge, of beter dalk, en nader aan God staan? Soos die monnike in ’n klooster iewers afgesonderd van die gewone lewe? Of soos Moeder Theresa? Dalk sondeloos? En onwillekeurig onthou jy dan sommer ’n hele paar skynheiliges ook!
Petrus het glad nie so ’n eksklusiewe klub in gedagte gehad toe hy geskryf het dat ons ’n “heilige nasie” (AFR2020) is nie. Almal aan wie hy sy brief geskryf het, is deel van dié heilige nasie. En jy wat dit vandag gelees het, ook. Jy is óók heilig. Want “heilig” is nie ’n graad van geestelike volwassenheid nie; dis ’n eienskap, ’n status voor God. Heilig beteken om afgesonder te wees vir besondere diens aan God; eenkant gesit om God s’n te wees, en Syne alleen.
Dink daaroor: jy is God s’n alleen. Hy het jou eenkant gesit sodat jy volledig, ekslusief, in sy diens kan wees, en beskikbaar vir sy gebruik. Wat sê dit vir jou oor hoe jy oor jouself moet dink, en oor jou keuses en jou optrede? Getuig dit wat jy is en wat jy dink en wat jy sê en doen, daarvan dat jy aan God alleen behoort? Net Syne is? Dat jy volledig met hart en siel en verstand op God gerig is?
Gebed: Here, ek voel so onheilig en onwaardig! Help my om myself te sien soos U my sien: heilig.
Views: 3




