Lees Kol 2:6-23 en 3:1-4
Een van die probleme wat baie gelowiges het, is dat Jesus se sterwe ’n groter rol in hulle lewe speel as wat sy opstanding doen. Ons is mense van die kruis, en minder so van die leë graf.
Jy kan jouself hieraan toets. Skryf neer waar jy die klem in jou geloof plaas. Is dit dalk die feit dat Jesus vir jou sondes gesterf het? Dit is natuurlik nie verkeerd nie; trouens, dit is ’n noodsaaklike deel van ’n gesonde en saligmakende geloof. Dit is waar alles vir ons verander het – op Golgota. Daarsonder was jy nog verlore in jou sonde.
Maar watter rol speel Jesus se opstanding in jou geloofslewe en -denke? Vorm dit deel van hoe jy oor jouself dink? Want Paulus skryf hier baie stellig dat jy saam met Christus uit die dood opgewek is. Die Heidelbergse Kategismus (vraag 88) sê dit ook as dit oor die bekering praat. Dit bestaan uit twee dele, naamlik die afsterwe van die ou mens, en die opstaan van die nuwe.
Waarop fokus jy in jou geloof? Op die dinge waarmee jy sukkel, die sonde wat jy bely? Waarmee jy voor die kruis gaan kniel? Dit is reg. Maar as jy dit klaar bely het, moet jy van jou knieë af opstaan en leef vir Jesus. Skuif jou fokus na die nuwe lewe, na die oorwinnings wat jy in Christus behaal, na geestelike groei.
Gebed: Ek aanbid U as die lewende, opgestane Here, wat ook vir my opgewek het.
Views: 1




