1. Wag soos die skepping

Hulle almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd. Gee U vir hulle, raap hulle dit op; maak U u hand oop, word hulle versadig met wat goed is.
Psalm 104:27-28 (AFR20)

In hierdie aangrypende lofpsalm besing die digter God as Skepper, maar ook as Onderhouer van alles wat leef. Alles, sê die digter, is afhanklik van God, en wag op God vir hulle kos. Net so min as wat die diere hulleself kan skep, net so min kan hulle vir hulleself voorsien. Die hele skepping is onderhewig aan hierdie een onveranderlike wet: wag op die Here.

Dit is juis hiervoor dat God die wêreld geskep het – sodat Hy daarvoor kan sorg, en só sy wysheid, krag en goedheid kan toon. God is die geskape wêreld se lewe en geluk; Hy giet die rykdom van sy goedheid en krag oor hulle uit. Dit is in God se aard om onophoudelik die voorsiener van elke behoefte van sy skepsels te wees. Net so is dit die skepsels se doel en aard om op God te wag, om van Hom te ontvang wat net Hy kan gee, en wil gee.

As ons wil verstaan wat dit beteken om op God te wag en hoe ons wagtend moet leef, as ons die seën wil ontvang wat daaruit voortspruit, moet ons by die skepping begin. Dan sal ons ontdek dat dit nie ’n lukraak opdrag is nie. Dis nie net sondaars wat hulpeloos is nie; ook as verlostes bly dit ons hoogste roeping – om in salige afhanklikheid van God te leef.

Net soos die diere van die veld en die voëls en goggas op God se sorg wag, so moet ons ook, want God is die Een op Wie gewag moet word. Hy is die groot Voorsiener. Ons verhouding tot Hom is een van afhanklike verwagting.

Maak dit die kenmerk van jou lewe en aanbidding – ’n voortdurende, nederige wag op God. Hy wat jou vir Homself gemaak het en Homself vir jou gegee het, sal jou nooit teleurstel nie. Wag op Hom, en jy sal rus en vreugde en krag ontvang, want Hy sal elke behoefte van jou vervul. Wag op die Here!

image_pdfimage_print

Views: 9

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.