1. Wag op voorraad

Die Here help almal op wat geval het. Hy ondersteun dié wat bedruk is. Die oë van almal is op U gerig, en U gee hulle kos op hulle tyd.
Psalm 145:14-15

Waar Psalm 104 veral fokus op die skepping en die diereryk, handel Psalm 145 oor God se volk. Die oë van almal is op U gerig verwys spesifiek na gelowiges, na die gevallenes en die onderdruktes. Wat die diereryk onbewustelik doen, moet gelowiges doelbewus en vrywilliglik doen. Daar is niks edeler of meer geseënd in die uitoefening van ons vrye wil nie, as om dit te gebruik om op God te wag.

’n Gevegsmag kan nie sonder voorraad veg nie. Net so het ons in ons Christelike lewe elke dag, met elke tree, ons voorraad van Bo nodig. Daarom is dit noodsaaklik dat ons ’n gees van afhanklikheid van God en vertroue in Hom sal kweek wat weier om voort te gaan sonder die broodnodige voorraad van genade en krag.

Moenie wag op God met gebed verwar nie. In gebed gaan dit dikwels om jouself en wat jy nodig het van God. Wanneer jy op God wag, gaan dit om die God op Wie jy wag. Daarom moet jy in sy teenwoordigheid stil wees en op Hom wag. Hy wil Homself aan jou openbaar en jou met Homself vul. Buig daarom in stilte voor God en fokus op Wie Hy is, hoe naby Hy is en hoe gereed Hy is om jou te help, voordat jy bid. Word stil voor Hom en laat sy Gees toe om jou tot algehele afhanklikheid voor Hom te bring. Wag op God totdat jy weet Hy is by jou. Dan sal jou gebed heeltemal anders wees.

Laat daar tye van stilte wees terwyl jy bid, en wag dan eerbiedig en met oorgawe op Hom, vir ingeval Hy jou wil leer of in jou wil werk. Dit sal die mees geseënde deel van jou gebed word, en só verheerlik jy Hom. Wag op die Here!

image_pdfimage_print

Views: 8

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.