Toe koning Hiskia dit hoor, het hy ook sy klere geskeur. Hy het rouklere aangetrek en is na die huis van die Here toe. (vers 1)
So goddeloos soos sy pa Agas was, so vroom was Hiskia. In hierdie hoofstuk reageer Hiskia soos ’n mens al lankal gehoop het die konings wou reageer. Te midde van die ontsaglike Assiriese bedreiging wat hy in die gesig staar, is die eerste ding wat hy doen, om die Here in sy huis te gaan raadpleeg, en daarna het hy die hulp van Jesaja, die profeet van die Here, ingeroep (vers 2 e.v.). En later neem hy die dreigbriewe van Sanherib na die huis van die Here en pleit om genade (vers 14-19).
Dalk is die regte manier om op hierdie gebeure te reageer, ’n selfondersoek. Hoe sou jý gemaak het as jy in Hiskia se skoene was? Hoe reageer jy wanneer jy met die rug teen die muur staan?
Die Here nooi ons in Ps 50:15: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.” Dit is ook Jakobus se raad (Jak 5:13), en dit is hoe Jesus geleef het. Daarom sien ons Hom met sy Vader praat in Getsemane (Luk 22:41-44).