1. Vir al die heiliges

Ja, niemand wat op U wag, sal beskaamd staan nie …
Psalm 25:3a (AFR20)

Vergeet vandag van jouself en dink aan die groot huishouding van God, gelowiges regoor die wêreld, wat almal saam met jou op God wag. Ja, niemand wat op U wag, sal beskaamd staan nie.

Dink vir ’n oomblik aan die wagtende menigte wat jou gebede nodig het: siekes en afgetakeldes en eensames vir wie dit lyk of hulle gebede onbeantwoord bly en vrees dat hulle hoop beskaam sal word. Dink aan die talle dienaars van God wat begin hoop verloor, wie se verlange na krag en seën onvervuld bly omdat hulle nie weet hoe om in God te rus en op Hom te wag nie.

As hierdie intersessie vir almal wat op God wag deel word van ons eie wag op Hom, sal ons mekaar se laste dra en so die wet van Christus vervul. So word selfloosheid en liefde deel van ons wag op God.

Liefde vir mekaar en liefde vir God kan nie van mekaar geskei word nie. In Christus is die Vader se liefde vir die Seun en vir ons dieselfde, en Hy verwag dieselfde liefde van ons: Net soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief … Dit is my gebod: Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het. (Joh 15:9 en 12, AFR20). Dis hoekom ons vir mekaar moet bid.

Twee maal in hierdie psalm praat Dawid van sy eie wag op God, maar in vers 3 dink hy aan almal wat op Hom wag. O, dat almal wat moeg en oorlaai is dit mag weet: daar is meer wat vir hulle bid as wat hulle besef! Daarom, vergeet van jouself in jou wag op God, verruim jou hart, en sê vir God: Die oë van almal is op U gerig, en U gee hulle kos op hulle tyd (Ps 145:15). Laat dit jou inspireer en nuwe moed gee. Wag op die HERE! Wees sterk en hou moed, ja, wag op die Here! (Ps 27:14, AFR20). Hou in jou gebed vas aan hierdie belofte!

image_pdfimage_print

Views: 23

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.