Met volkome oorgawe het hulle gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hom uitgetart. Die Here het so toornig op Israel geword dat Hy hulle verwerp het. (vers 17-18)
Hartseer soos dit is, vertel hierdie hoofstuk dat genadetyd verby kan gaan. In 2 Kon 13:23 verduidelik die skrywer ons dat die Here ’n genadige en ontfermende God is. Die profeet Hosea (nie die koning nie!) wat in dié tyd opgetree het, het dit ook nog verkondig (Hos 11:8): “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? […] Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.” Dié genade-aanbod het ongelukkig op dowe ore geval. Israel het oor baie jare die Here se genade geminag. Hulle het hulle nie aan God se boodskappers gesteur nie, en uiteindelik het God se geduld opgeraak.
Ek kan my nouliks ’n ontstellender boodskap voorstel. Ons wil ’n God dien wat die ene liefde en genade is, soos die groot Franse filosoof Voltaire gepredik het: “God sál vergewe. Dis sy werk.” Dis natuurlik onsin. God se genade is ’n uitnodiging om Hom as Verlosser te omhels. As jy dit nie doen nie, verbeur jy dit (Joh 3:16-17).