- Wag met ontsag en hoop
Kyk, die Here hou sy oog op dié wat vir Hom ontsag het, op dié wat op sy troue liefde wag …
Psalm 33:18
God hou sy oog op sy mense, en hulle oë is op Hom. Wanneer jy jou oë in afwagting hemelwaarts oplig, kyk jy reg in die oë van God wat op jou gerig is. Dít is die seën wat voortspruit uit wag op die Here. Dit trek ons oë en gedagtes weg van onsself, van ons behoeftes en begeertes.
Die Here hou sy oog op dié wat vir Hom ontsag het, op dié wat op sy troue liefde wag. Oënskynlik is daar ’n teenstrydigheid tussen ontsag hê (vrees), en hoopvol wag. Maar in God se teenwoordigheid word dié paradoks opgehef. Hoe dieper jy in heilige ontsag nederig buig voor sy heiligheid, hoe meer sal sy heiligheid op jou rus. Ware ontsag vir God sal nooit jou hoop op Hom laat taan nie; trouens, dit sal sterker word. Hoe laer jy voor Hom buig, hoe beter verstaan jy dat jy niks het waarop jy kan hoop nie, behalwe sy genade. Hoe dieper jy voor Hom buig, hoe nader sal God kom en jou hart versterk om op Hom te hoop.
Dink ’n oomblik aan Wie dié God is: sy oog is op jou, nie om die gevaar van dood of droogte (Psalm 33:19) te voorkom nie – ons het dit dikwels nodig om ons beter op Hom te laat wag – sy oog is op jou om jou te red en aan die lewe te hou. In watter gevaar jy ook mag verkeer, kan jy dié hoop hê: God se oog is op jou. Sy oog sien die gevare, en sien sy benoude kind. Hy sien die moment wanneer jou hart gereed is vir sy seëninge, en vir die manier waarop dit na jou toe kom.
God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood (Psalm 46:2). Onthou dit! Wag op Hom in jou diepste nood. Hy sal jou red, jou uitlig, jou bewaar! Wanneer dit gebeur, sal elkeen sê: Kyk daar, dit is ons God, ons het op Hom vertrou, Hy het ons gered. Dit is die Here! Ons het op Hom vertrou. Laat ons bly wees en juig omdat Hy ons gered het (Jesaja 25:9). Wag op die Here!
Views: 15






