Maar hulle sê vir haar: “Jy is mal.” Toe sy egter daarmee volhou, sê hulle: “Dan is dit sy gees.” (Hand 12:15)
Geen situasie is te hopeloos en só buite bereik dat God nie iets daaraan kan doen nie. Dit lyk my die gemeentelede wat so hard vir Petrus gebid het, het dit vergeet. Terwyl hulle nog bid vir Petrus se redding, kom hy daar aan en klop aan die deur. Die diensmeisie Rodé was so bly toe sy hoor dit is Petrus, dat sy vergeet om vir hom oop te maak. En daar staan Petrus, wat by hoeveel toe tronkdeure en hekke en soldate verbygekom het, en hy kan nie by die doodgewone toe deur van sy vriende verbykom nie, want hulle glo nie vir Rodé dat hy daar staan nie. Hulle sê selfs sy is mal, of dat dit ’n spook is.
Miskien het God Petrus se gevangeneming toegelaat om die jong kerk te leer dat geen situasie so hopeloos is dat Hy nie iets daaraan kan doen nie.
Die ironie is dat, toe God die gemeente se gebede antwoord, was hulle nie gereed daarvoor nie. Verwag jý dat God jou gebede in hierdie dae sal antwoord?