- Wag geduldig
Wees stil in die Here, en wag geduldig op Hom … dié wat op die Here vertrou, sal die land besit..
Psalm 37:7–9 (NLV)
Geduld is ’n baie belangrike deug vir ’n Christen. Nêrens word dit beter ontwikkel nie as om op God te wag. Van nature is ons ongeduldig; ons is selfs met God ongeduldig omdat Hy nie maak soos ons vra, of gou genoeg na ons sin reageer nie. As jy egter op God wag, begin jy verstaan dat Hy wys en almagtig is, en hoe gouer jy jou aan Hom onderwerp, hoe sekerder kan sy seëninge na jou toe kom.
Dit hang dus nie af van ’n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is (Romeine 9:16). Self kan jy min doen om jou geestelike lewe te verbeter of te versterk. Dit kom van God. Jou toewyding, jou lees en bid, jou gewilligheid en dade het groot waarde, maar uiteindelik kan dit jou niks verder bring nie as by die punt waar jy besef dat jy geheel van God afhanklik is, en daarom geduldig moet wag op sy goeie tyd en genade. In die wag stel jy jou tot God se beskikking. Hulle wat geduldig op Hom wag, sal die land besit.
Wees stil in die Here, en wag geduldig op Hom. Wanneer jy in die Here stil word en by Hom tot rus kom, groei jou geduld. Want in Hom kom al jou begeertes en verlangens, jou vrese en verwagtings tot rus, en dit lei na die vrede wat alle verstand te bowe gaan ( Filippense 4:7). Die rus, die stilte, die stilwees, en die geduldige wag – dit alles kry hulle krag en vreugde in God Self.
Dit is in die wag op God dat jy sy seëninge ontvang. Wees daarom stil in die Here en wag op Hom. Ja, op Hom. Moenie net wag op God se hulp of genade nie; jy moet Homself soek en op Hom wag. Rus in Hom, vertrou Hom volledig, en wag geduldig op Hom. Só laat jy Hom toe om koning in jou lewe te wees en sy werk in jou te doen. Jy laat God God wees. Of dit nou vir ’n spesifieke, korter tyd is, en of dit die voortdurende ingesteldheid van jou siel is: rus in die Here, geduldig, want hulle wat op Hom vertrou, sal die aarde beërwe. Wag op die Here!
Views: 34





