Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige! (vers 2)
Dit is duidelik dat die tempel in die digter se lewe bo alles belangrik was. Hy verkies selfs om op die drumpel van die tempel te huiwer as om in ’n huis te woon!
Daar het iets met die digter gebeur wanneer hy na die tempel gegaan het om te aanbid. Hy het daar sy krag gekry; ’n lafenis vir sy dorre siel. Want hy het God daar ontmoet. Dís die hele punt: God is op ’n besondere manier in sy tempel teenwoordig, soos Psalm 22:4 sê: “U is tog die Heilige wat woon waar die lofsange van Israel weerklink!”
Natuurlik kan ’n mens Hom elders ook ontmoet: in jou binnekamer, in die natuur, selfs wanneer jy besig is om te bestuur. Ons bely immers dat God oral teenwoordig is, dat Hy deur sy Gees in ons woon en ons só tempel van God word. Maar dit is ook waar dat die Here op ’n unieke manier in sy huis teenwoordig is. ’n Gelowige wat dié waarheid ontken, doen dit tot sy eie nadeel. Daarom is dit goed dat daar elke Sondag ’n erediens is, sodat ons God kan aanbid en deur Hom geseën en bekragtig kan word.