1. Wag op meer as wat jy weet

En nou, wat verwag ek, my Heer? My hoop, op U is dit gevestig. Verlos my van al my oortredinge …
Psalm 39:8-9a (AFR20)

Soms weet ons nie waarvoor ons wag nie, en selfs as ons dink ons weet, is dit goed om te besef dat ons nie weet waarvoor om te vra nie. God kan vir ons oneindig meer doen as wat ons vra of dink. Ons loop die gevaar om Hom in te perk as ons ons begeertes en gebede deur ons eie gedagtes laat begrens. Daarom is dit goed om saam met die digter te sê: En nou, wat verwag ek, my Heer? Ek weet skaars, maar dít weet ek: My hoop is op U gevestig.

Dit gaan vandag nog soos dit met die Israeliete in die woestyn gegaan het. Hulle het verwag dat God water in die woestyn sal gee, want hulle het self beleef hoe Hy dit doen. Maar brood en vleis? Dit kan tog nie, het hulle gesê. Kyk gerus na Psalm 78:18-20! God kan egter meer doen as wat ons kan bid of dink. Daarom moet jy die gewoonte aankweek om op Hom te wag, nie net vir wat jy dink jy nodig het nie, maar ook vir alles wat sy genade en krag vir jou kan doen.

In elke gebed is twee harte betrokke: jou eie hart met sy klein, donker, menslike denke oor wat jy nodig het en wat God kan doen; en God se hart met sy oneindige, goddelike wil om te seën. As jy God nader, moet God se hart voorrang geniet. Deur op God te wag, leer jy om dit te doen. Bely dat jy min verstaan van wat God vir jou wil doen. Jou hart weet nie wat om te verwag nie, maar God se hart weet, en wag om te voorsien. Daarom, vestig jou hoop op Hom. Ook om jou op sy oorvloedige manier van jou oortredinge te verlos.

Leer om God te aanbid as die God wat wonders doen, ook in jou lewe. Buig voor Hom, wag op Hom totdat jy verstaan dat jy in die hande van ’n goddelike en almagtige werker is. Laat dié hoop elke verlange en elke gebed van jou dra. God sal op sy tyd sy werk doen. Los dit vir Hom, en wag net op Hom!

image_pdfimage_print

Views: 20

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.