Jubel tot eer van God ons sterkte, juig tot eer van die God van Jakob! (vers 2)
Hierdie psalm is waarskynlik op die Huttefees gesing. Dit was ’n fees waarin die volk teruggedink het aan die tyd toe hulle in blaar-hutte moes woon tydens die uittog uit Egipte; ’n fees waarin hulle onthou het wat God alles vir hulle gedoen het (vers11), en veral ook dat Hy met hulle ’n ewige verbond by Sinai gesluit het (vers 10).
Sedertdien is vreugde en dankbare herinnering steeds deel van ons geloofsverhouding met God. Daarom vier ons dikwels die nagmaal as die fees van ons verlossing.
Die psalm herinner ons egter daaraan dat ons nie net die verlossing en sorg uit God se hand kan ontvang, en daarmee is dit klaar nie. Ons is aan God verbind om sy wil te doen (vers14).
Dankbare erkentlikheid en vreugdevolle gehoorsaamheid is beide onmisbaar deel van ons lewe voor die Here. As ons só voor Hom leef, belowe Hy aan ons, soos aan Israel, sy ruimhartige sorg (vers 17).
Dalk moet ons dit met groter oorgawe probeer?