1. ’n Nuwe lied

Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my ’n nuwe lied in die mond gelê, ’n loflied vir ons God.
Psalm 40:2,4

Ware geduld is nie deel van ons selfversekerde natuur nie, maar dit is onontbeerlik in ons wag op God. Daarom is dit goed dat ons nog ’n keer hieroor nadink in die lig van die Woord. Geduld, sê die Verklarende Afrikaanse Woordeboek, is die vermoë om alle beproewings of teleurstellings lydsaam te dra. Wanneer jy op God wag, verduur jy egter nie maar net die beproewings omdat daar nie ’n ander opsie is nie; jy aanvaar dit selfs met vreugde omdat jy in God se hand is.

Deur geduld eer ons God en gee ons Hom tyd om sy pad met ons te loop. Dit is die hoogste uitdrukking van ons geloof in sy goedheid en getrouheid. Dit bring jou siel tot rus in die wete dat God voortgaan met sy werk. Geduld is die teken van ons volledige toestemming dat God met ons kan werk op ’n tyd en wyse wat Hy die beste weet. Ware geduld is om jou eie wil aan God se volmaakte wil prys te gee.

Dít is die geduld wat jy nodig het om waarlik volledig op God te wag. Dit kom natuurlik nie oornag nie. Dit ontwikkel namate jy leer om jou eie wil te skik na die lig en leiding wat God gee, sodat jy ’n instrument in sy hand kan wees, en soos Dawid kan sê (Psalm 62:2): Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding.

Geduld is ’n genadegawe waarvoor God ons spesiaal toerus, sê Paulus in Kolossense 1:11: Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. So skep moed! God gee dit ook vir jou, namate jy op Hom wag.

Die beloning as jy geduldig op God wag, is groot. Hy tel jou op uit jou nood (Ps 40:3) en lê ’n nuwe lied in jou mond. En onthou: geduld is ’n gawe wat God gee. Wag op die Here!

image_pdfimage_print

Views: 14

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.