1. Wag in heilige verwagting

Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.
Miga 7:7

In ’n preek oor hierdie teksvers het ek die volgende verhaaltjie gelees: Daar was ’n koning wat ’n stad vir sy armste burgers ingerig het. Daar naby was sy stoorkamers, waar die armes alles kon kry wat hulle gevra het. Die enigste voorwaarde was dat hulle moes wag vir die antwoord, sodat hulle gereed is as die aflewering kom. Maar een van die burgers was só mismoedig dat hy nooit verwag het sy versoek sal gestuur word nie, en daarom het hy nie daarvoor gewag nie. Hy het geglo hy is dit nie werd nie. Hulle vat hom toe na die koning se stoorkamer, en tot sy verbasing is daar talle pakkies met sy naam en adres op. Dit het onafgelewer teruggekom, want hy was nooit tuis om dit te ontvang nie. Daar was die kleed van lof, die olie van blydskap, oogsalf … Toe leer die man wat Miga gesê het: Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.

Wag op gebedsverhoring is ’n belangrike deel van wag. ’n Heilige, blye verwagting is die kern van ware wag; nie net vir al die versoeke wat ’n gelowige maak nie, maar ook vir die een versoek wat die belangrikste in jou hart behoort te wees: dat die lewe van God volle seggenskap in jou hart sal hê. Dat Christus se beeld in jou tot volmaaktheid sal kom en jy vervul sal wees met die volheid van God. Gelowiges vra dit selde – dikwels omdat hulle nie glo dit is moontlik nie. Maar juis dit is waarvoor jy moet vra en wat jy kan verwag, want God kan en wil dit in jou werk.

Maar – God moet dit doen. Daarom noem Miga God drie keer in die een vers. Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor. Jy moet op Hom wag, Hom vertrou in die seker wete dat Hy jou sal verhoor.

God sê: Wees stil en weet Ek is God! (Psalm 46:11 NLV) Dit is nie die stilte van die graf nie. Dis die rus in Christus se oorwinning oor graf en dood, in sy opstanding en verlossing. Wees stil, dat God jou lewe kan oorneem.

image_pdfimage_print

Views: 15

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.