- Wag op die koms van sy Seun
Die mense vertel self hoe julle … julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien en dat julle sy Seun … uit die hemel verwag.
1 Tessalonisense 1:9-10
Die wag op Christus se wederkoms vul jou wag op God met hoop en blydskap. Die Vader wat sy Seun op sy eie tyd uit die hemel sal stuur, is die God wat jou voorberei vir die openbaring van sy Seun terwyl jy wag. Jy kan nie die teenwoordige tyd en die komende heerlikheid van mekaar skei nie, want beide is in God geanker.
Die versoeking om die twee te skei, is daar. Dis altyd makliker om met die godsdiens van die verlede of van die toekoms besig te wees as om vandag in jou godsdiens getrou te wees; om meer geïnteresseerd te wees in die dinge wat kom as in die Een wat kom. Oppas dat jy nie die intellektuele studie oor dit wat gaan kom, verwar met ware liefde vir Hom en sy koms nie.
As jy sê jy wag op Christus se wederkoms, maak seker dat jy vandag op God wag. Die hoop op Jesus se heerlike verskyning sal jou versterk terwyl jy wag op wat Hy nou in jou sal doen.
Op daardie wonderlike dag sal Jesus hulle wat aan Hom behoort, ontvang en aan sy Vader voorstel. Ons sal Hom ontmoet en aanbid; ons sal mekaar ontmoet in die ekstase van sy liefde vir ons. Laat ons daarom wag en verlang na ons hemelse Bruidegom met innige liefde vir Hom en vir mekaar. Dít is die egte bruidshouding. Die twee gaan hand aan hand. Om op sy koms te wag vra dat ons in nederigheid en liefde vasklou aan ons Here, en aan sy mense.
Wag op die wederkoms hou baie meer in as om te wag op iets wat moet gebeur. Dit vra dat jy nou op God wag, soos Jesus gedurig op sy Vader gewag het en niks op sy eie gedoen het nie. Net God kan jou die diep geestelike lewe gee van een wat op sy Seun wag. Wag dat Hy toenemend sy Seun in jou sal laat verskyn. Dít is die ware voorbereiding op die volle openbaring van Christus. Dit is God se geskenk aan hulle wat op Hom wag. Wag op die HERE!
Views: 10



