1. Wag voortdurend

Maar jy, na jou God moet jy terugkeer. Lê jou toe op troue liefde en wat reg is, en wag altyddeur op jou God.
Hosea 12:7 (AFR20)

Ononderbroke en voortdurende toewyding is noodsaaklik vir ’n gesonde Christelike lewe. Wag op God is die kern van ware godsdiens. Daarom moet jy voortdurend leef in ’n gees van algehele afhanklikheid. Die opdrag van God: Wag altyddeur op jou God, moet aanvaar en gehoorsaam word.

Hierdie voortdurende wag is inderdaad noodsaaklik. Mense wat tevrede is met ’n flou Christelike lewe mag dink dat dit ’n onnodige luukse is om op God te wag as jy ’n goeie Christen wil wees. Daar kan egter nie sprake wees van ononderbroke gemeenskap met God, of van volledig in Christus bly, en voortgaande oorwinning oor sonde en diensbaarheid, as jy nie voortdurend op God wag nie.

Voortdurende wag is moontlik. Baie mense dink jy kan nie, want die lewe eis te veel, hulle kan nie die hele tyd daaraan dink nie. Wat hulle nie besef nie, is dat dit ’n saak van die hart is, en die hart kan aanhou, selfs wanneer jou gedagtes elders besig is.

Wag op God is ’n belofte: Hy wat in jou werk, waarborg jou vordering. Self al voel dit vir jou jy kom nie reg daarmee nie, bly God deur sy Gees voortgaan. Hy stel jou in staat om voortdurend te wag. As jy voortdurend wag, sal God voortdurend werk. Hy doen dit inderdaad, maar ’n gees van ongeloof kan verhoed dat jy dit beleef. Sy Gees wat jou leer om te wag, sal jou ook daar bring waar jy beleef hoe sy werk nooit ophou nie.

Moet God dan nie beperk deur jou idees van wat verwag kan word nie. Vestig jou oë op hierdie een waarheid: God kan nie anders nie; dis in sy aard om in sy kind te werk. Moenie net dink: solank jy bly wag, sal God bly werk nie. Nee, plaas God eerste en sê: “God bly werk, daarom sal ek elke oomblik, voortdurend, op Hom wag.” Laat dié besef só deel van jou word dat jou wag op God vanself kom. Dit bring vertroue en blydskap. Wag op die HERE!

image_pdfimage_print

Views: 26

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.