“Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig,” skryf Paulus in Kolossense 4:6. Maar hoe gemaak as slegte gedagtes in jou kop opduik? As ’n snedige opmerking of ’n lelike woord asof vanself op jou tong spring voor jy kan keer?
Daar is net een manier, en dit is om te sorg dat daar nie ’n bron vir hierdie lelike woorde en gedagtes in jou binneste is nie. Die Here Jesus het in Lukas 6:45 gesê: “Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.” Sy raad kan ons só omskryf: Prop jou kop vol mooi dinge, dan sal daar nie plek wees vir die slegte goed nie, en dan sal daar ook nie lelike goed by jou mond uitkom nie. Dis ook Paulus se raad in Filippense 4:8.
Dis nie so maklik soos dit klink nie. Dit vra dat jy doelbewus sal fokus op dit wat mooi is in die lewe en veral ook in die mense om jou. Dis natuurlik nie hoe ons is nie. Van nature sien ons eerder die lelike en die verkeerde raak; wil ons ander afkraak en afskryf. Maak maar net die koerant oop om te sien wat mense die graagste lees!
Dis nie maklik nie, maar wie het gesê dis maklik om ’n gelowige te wees? Om die waarheid te sê, dis onmoontlik as jy dit uit jouself probeer. Dit word eers moontlik as jy God toelaat om jou te verander, om jou denke te vernuwe (Romeine 12:2) en jou gedagtes nuut te laat word (Efesiërs 4:23). Dit vra dat jy elke dag jouself opnuut onder die Here se leiding stel, dat sy Gees jou kan beheer.
Views: 50





