Is die skepping in ses dae gemaak?
Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.
Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het.
Gen 1:31 – 2:2Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus.
Eks 20:11
As jy die Bybel vinnig lees, sal jy saam met die sg. kreasioniste tot die gevolgtrekking kom dat die hemel en aarde in ses dae gemaak is. Hulle sal ook vir jou sê die ses dae waarvan Gen 1 praat, letterlik 24 uur elk was. Dit beteken dat die hele skeppingswerk van God binne 144 uur voltooi is. Daarby bereken hulle uit die geslagsregisters in Gen 5 e.a. dat die aarde en mensdom ongeveer 6 000 jaar oud is (of dan in 4004 vC ontstaan het).
Natuurlik maak só ’n verstaan van die Bybel dit moeilik om die Bybelse skeppingsverhaal met wetenskaplike feite te versoen. Daar was bv al lig (dag 1) nog voordat die son, maan en sterre geskep is (dag 4). En die groen plante is óók voor die son geskep (dag 3), wat vrae laat ontstaan oor hoe hulle kon lewe en fotosinteer sonder die energie van die son. En so kan ons aangaan. Dan is ons nog nie eers by die vraag na waar die dinosourusse inpas nie, of sterrekundige bewyse dat die skepping al miljarde jare oud was teen die tyd dat die aarde in ’n posisie was om lewe te onderhou.
Natuurlik sal die kreasioniste gou wees om te sê God het die ouderdom in die skepping ingeskep, sodat dit moet lyk of die aarde ouer is as wat dit in werklikheid is. Ander sê weer die woord “dag” in Hebreeus kan ook “tydperk” beteken, wat ruimte maak vir ’n langer skeppingstyd.
Die kreasioniste se standpunt hou nie daarmee rekening dat God nie net die wêreld geskep het nie, maar ook die outeur van die wetenskap is. Die Bybel en die wetenskap kan dus nie twee verskillende verklarings vir die ontstaan van alles gee nie, want agter beide sit een en dieselfde Skepper. Daarom, as daar oënskynlike teenstrydighede tussen die Bybel en die wetenskap is, is die logiese verklaring dat óf ons verstaan van die Bybel, óf ons verstaan van die wetenskap, iewers verkeerd is. Ons weet bv vandag dat die aarde ’n ronde sfeer is en nie ’n plat skyf wat op pilare staan nie, al gee die Bybel plek-plek (bv Sag 12:1) die indruk dat die aarde plat is. Maar Bybelskrywers was kinders van hulle tyd wat ’n voor-wetenskaplike wêreldbeeld gehad het.
Persoonlik dink ek die hele idee dat die aarde in net ses dae gemaak is, berus op ’n verkeerde lees van die Bybelse skeppingsverhaal. Die Bybelse skeppingsverhaal van Gen 1 is immers nie ’n joernalistieke of ooggetuie-verslag van die skepping nie. Dit is kunsprosa, om nie te sê poësie nie. Dit wil nie ’n letterlike verslag van die ontstaan van alles wees nie, maar ’n loflied op die grootheid en grootsheid van God en sy skeppingswerk. Dit wil bely dat God alleen alles gemaak het, dat Hy dit baie goed gedoen het, en dat Hy dit netjies georden het. Presies hoe Hy dit gedoen het, en hoe lank dit geduur het, is vrae waarmee ons nie na die Bybel moet gaan nie, maar na die wetenskap.
Views: 48






