Julle kan nie teen julle vyande staande bly as julle nie die gewyde goed tussen julle verwyder nie. (vers 13)
’n Paar goed staan hier vir my uit:
- Ek wonder hoekom ons niks lees van ’n gesprek tussen Josua en God vóór die geveg teen Ai nie. Kan dit wees dat Josua gedink het hulle is nou reg, hulle kan self verder regkom? Hulle het nie die Here se leiding nodig in die ou klein geveggie teen Ai nie? En dit terwyl ons nie ’n enkele tree kan gee sonder God nie!
- Jy kan nie maak soos jý wil, en dink dit is maar in orde nie. God eis onverdeelde trou aan Hom (vgl. Eks. 20:5) en verwag absolute gehoorsaamheid.
- Akan se hele gesin en al sy goed word uitgeroei. Dit klink vir ons verskriklik erg. Hoekom nie net Akan nie? Hoekom sy vrou en kinders en al sy besittings ook? Onthou, Israel is hier aan die begin van ’n nuwe era. God móés die reëls onmisverstaanbaar neerlê. Daarom was die straf so erg.
Ek wonder soms of ons regtig besef hoe ’n groot verantwoordelikheid daar op ons rus as kinders van God.