Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is. (vers 36)

As ’n mens in Lukas 6 lees wat Jesus gedoen en gesê het, kan jy dalk die indruk kry dat Hy moedswillig was en opsetlik die bestaande orde en leiers uitgedaag het. Hy maak wat Hy wil op die sabbat, wat vir die Joodse godsdiensleiers aan godslastering gegrens het. En sy onderrig was, om die minste daarvan te sê, ongewoon. Verbeel jou – die geseëndes is die armes, dié wat honger het, die verstotenes, dié wat uitgeskel word!
Aweregs, verkeerdom, wil ’n mens sê. Totdat jy inkoop in Jesus se manier van dink en doen. Dis nou om die ander wang te draai, en ander te behandel soos jyself behandel wil word. Om goed te doen aan almal, selfs aan dié wat jou haat en beledig.
Dis immers hoe God is. Hy is self goed vir die ondankbares en slegtes (vers 35).
Om in te koop in Jesus se manier van dink en doen beteken presies dit: om weg te kyk van jouself en die mense om jou raak te sien, nie om hulle te veroordeel of te kritiseer nie (vers 37 en 42), maar te help (vers 38). As die storms kom, sal die Here jou vashou.

image_pdfimage_print

Views: 97

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.