U kan tog nie sien dat daar ellende is en niks doen nie! Waarom doen U dan niks aan die trouelose mense nie, waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig wat beter as hulle is? (vers 13)
Habakuk begin sy kort boek met ’n klaaglied waarmee die meeste van ons kan identifiseer. Hy bekla sy lot voor God omdat God skynbaar afwesig is. Hy roep om hulp, maar dit voel vir hom die Here hoor nie (vers 2). En intussen verval die samelewing in chaos (vers 4). God se wet word geïgnoreer; dis ’n samelewing sonder norme.
Toe God uiteindelik vir Habakuk antwoord, is dit glad nie die antwoord waarop hy gehoop het nie (vers 5-11). God maak nie soos Habakuk wil hê nie. Trouens, Hy vererger die probleem, want Hy stuur die Galdeërs om die land te kom verower!
Habakuk gee hier ’n stem vir elkeen wat wonder waar God dan is in ’n tyd van krisis. Wat belangrik is om raak te sien, is dat hy nie oor God praat nie. Hy draai nie sy rug op God in sy vertwyfeling nie, maar praat mét God. Hy klou aan God vas, want Hy weet God is van altyd af daar (vers 12).