Van Paulus, ’n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. (vers 1)
Die eerste ding wat Paulus oor homself sê, is dat hy ’n dienaar van Christus Jesus is; ’n slaaf wat aan Jesus behoort. Sy hele gerigtheid is op Christus. In Fil 3:8 stel hy dit só: “… om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.”
Om ’n dienaar te wees, beteken natuurlik dat jy nie kan rondsit en niks doen nie. Om Christen te wees is nie net ’n mooi titel nie; dis werk. Soos Paulus, is ons ook dienaars, geroep en afgesonder vir Christus. Presies wat jou taak as dienaar van Christus behels, is iets wat elke gelowige biddend (en jou lewe lank) voor God moet bepaal.
Paulus skryf ook dat hy genade ontvang het vir sy taak (vers 5). Dis ’n voorreg dat ons in God se diens mag wees. Daarvoor het ons genade nodig, anders sal ons nie kan volhou nie. Augustinus het in dié verband gebid: “Here, gee wat U vra, en vra dan wat U wil.” God verwag nie van ons om iets vir Hom te doen sonder dat Hy ons eers toerus nie.