Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God … (vers 6)
Petrus praat heelwat van nederigheid in hierdie gedeelte. Hy skryf ons moet almal teenoor mekaar nederig wees; dat God aan die nederiges genade gee; dat ons ons in nederigheid aan die kragtige hand van God moet onderwerp. Dis of hy vir ons wil sê, as hy dink hoe ’n gelowige moet wees en lyk, dat nederigheid die een kenmerk is wat vir hom uitstaan.
As jy na die vrug van die Gees kyk wat Paulus in Gal 5:22 en 23 beskryf, sien jy dat nederigheid ook een van die karaktertrekke is wat hy daar noem. G’n wonder nie, want eintlik beskryf hy daar hoe Jesus gelyk het. Jesus het immers oor Homself in Matt 11:29 gesê: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.”
Dis wat navolging van Christus inhou: om al meer die karaktertrekke van die Here Jesus te hê.
So iets gebeur natuurlik nie vanself in ’n mens se lewe nie. Dit gebeur na die mate dat jy jou aan God se kragtige hand onderwerp, soos Petrus van ons vra in vers 6.
Naskrif: Ons gaan môre die boek Obadja lees, en Saterdag begin ons (DV) met die boek Handelinge. Seënwense!
Views: 25