In my nood het ek na die Here geroep en Hy het my gebed verhoor. (vers 1)
Hierdie psalm is die eerste van die vyftien pelgrimsliedere (Ps 120 tot 134). Dit is gesing deur die pelgrims op pad na die tempel vir die groot jaarlikse feeste.
Die digter vertel van sy benoudheid aan die hand van mense met venynige tonge, wat deur leuens en bedrog sy lewe moeilik gemaak het (vers 2-3). In nog ’n scenario vertel hy hoe hy as vreemdeling uitgelewer was aan mense wat oorlogsugtig is (vers 5-7).
Sy antwoord op hierdie ellende is nie om self te vergeld nie, maar hom tot God te wend (vers 1), en hy dank die Here vir die uitkoms wat Hy gee. Hiermee tree hy nie op volgens die vergeldingsreg wat destyds gegeld het nie (oog vir oog en tand vir tand), maar vlug hy na God vir beskerming (soos die priesterlike seën in Num 6:24-26 ons verseker).
As navolgers van Jesus moet ons meer doen as die digter. Ons bid nie om God se wraak oor dié wat ons te na kom nie, maar om sy vergifnis (Luk 23:34). En, les bes, roep Jesus ons om kwaad met goed te vergeld (Matt 7:12). Dis hoe ons God verheerlik.