Barnabas is na Tarsus toe om vir Saulus te gaan soek. Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië toe gebring … (vers 25-26)
Barnabas het verstaan dat hy nie alles alleen kan doen nie; hy het geweet hy het ander mense nodig om saam met hom in die Here se diens te staan. Daarom, toe hy in Antiogië kom en sien hoe groot die uitdaging is, weet hy hulle sal hulp nodig hê. Hy het geweet hy het iemand nodig wat ‘n goeie teologiese kennis het om hom te help, en dis dié dat hy vir Saulus van Tarsus gaan soek.
Dit was ’n goeie besluit. Vir ’n jaar lank werk hulle twee saam in Antiogië, en die gemeente groei en gaan vooruit. Só goed vorder die werk dat die gelowiges ’n nuwe bynaam onder hulle stadsgenote kry: Christene, navolgers van Christus, mense wie se lewe om Christus draai.
Daar is min soos Paulus, maar sonder Barnabas se visie en ondersteuning sou ons waarskynlik vandag niks van Paulus geweet het nie, want Barnabas het hom raakgesien.
Die Here het Paulusse én Barnabasse nodig; prominente leiers én lojale ondersteuners. Die Here het jou ook nodig.