Maar die Jode wat nie die boodskap wou aanneem nie, het die gemoedere van die heidene opgesweep en hulle teen die gelowiges aangehits. (vers 2)
Voor sy dood het Jesus sy dissipels gewaarsku dat hulle gereed daarvoor moet wees dat hulle net soos Hy vervolg sal word (Joh. 15:20), en hierdie hoofstuk is vol daarvan. By elke plek waar Paulus en Barnabas aandoen, gebeur dit met reëlmaat: party ontvang met blydskap die evangelie, maar ander, aangehits deur die Jode, vervolg hulle.
In Listra word Paulus selfs gestenig (vers 19). Dis ironies dat dit volg op ’n genesing (vers 10). Dit is wat Satan regkry: hy gebruik enige iets, goed óf sleg, om ’n wig tussen mense in te dryf.
Dit is vandag nog waar. Selfs in die kerk is Satan ywerig besig om ’n wig tussen mense in te dryf. Party lidmate praat openlik daarvan dat die kerk gaan skeur. Die enigste een wat oor hierdie situasie glimlag is natuurlik die duiwel.
Gelukkig is die duiwel nie die wenner nie. Daarom vertel hierdie hoofstuk óók van talle mense wat die Here Jesus as Verlosser aanvaar, sodat daar oral nuwe gemeentetjies tot stand kom. Waar God werk, kan niks Hom keer nie!